Wednesday, November 16, 2005

Hoe dit voel om in die vreemde te (moet) woon.


Om afrikaans te wees het vele fasette: sommige fasette besef jy nie eens as jy nie gaan sit en diep daaroor nadenk nie.
Ons het om een of ander rede beland in `n geografiese gebied wat ver is van ons wortels: dit maak nie saak wat jou velkleur is nie. Dit wat jy praat en die taal waarin jy praat defineer jou. Die hoofbindende faktor is die taal en dit raak alhoemeer die taal alleen.
Eers kon mens jou soort van patrioties bind aan `n kultuur, vaagweg defineer as " afrikaner kultuur" en `n geografiese deel van Afrika. Wat oorbly is net die geografiese gebied- miskien braaivleis en rugby, maar selfs dit is ook nie meer net jou plek nie. Dit wat as kultuur kon deurgaan is deur hoofsaaklik die taalgenote self belaglik gemaak.
Eendag word jy wakker en besef dat jy ge-emigreert is sonder dt jy jou tas gepak het. Jy word omring deur vreemde kulture in die geografiese tuiste waar jy al die jare gewoon het. Nog erger is dat dit wat jy as iets kon voorstel wat jou voorvaders verrig het, is nie so belangrik nie.

Die volgende gewaarwording is dat jy terug sit waar jy sou dink jou wortels moet wees: Europa en meer spesifiek, Nederland. Die taal wat jy hoor is amper soos joune, die mense lyk soos van jou familie lede, maar dis waar die ooreenkoms eindig.

Maar tog: na ´n paar jaar kom jy tog agter dat jy eintlik jou taal meer hoor en gebruik as wat dit "tuis" was. Die verlange na ´n geografiese gebied is ook beperk tot die een streek waar jy jou laaste jare deurgebring het toe jy nog "tuis" was. Die nuwe geografiese gebied waarin ´n mens beweeg is nou meer bekend en is jy hier meer tuis as in die ander deel waar jy in elkgeval in SA nooit gekom het nie.

Is dit nou "kulturele" verwarring of is dit ´n logiese speningsproses en miskien ´n breer uitsig op jouself en jou omgewing?

Hier voel mens nie meer so vreemd nie, miskien minder vervreemd as wat ek in SA was......

Friday, November 11, 2005

Ons roer, ons roer.

Hier was so `n paar weke gelede `n storie in die plaaslike koerantjie van `n sekere heer André de Boer. Sy werk, of soos hulle hier in Nederland dit noem " functie" was om met `n ou voor oorlogse bootjie in `n dam gevul met varkens " poep" al in die rondte te vaar en die stront te roer sodat die vaste stowwe nie afsak en op die dam se vloer ophoop nie. Hy vaar nou al heel nasomer rond, eers kon hy oor die dam se val uitkyk oor die polders van Friesland, mar soos die stront weggery word na die landbougronde van verre Zeeuws Vlaanderen, en die stront sak, het hy ook sy uitsig begin verloor oor sy omgewing en het hy net alleen met sy bootjie en die stront om hom heen agtergebly en so roer roer sy dae omgeroer. So sal hy roer roer tot alle stront op is, `n ander werk gaan doen ,en waarskynlik volgende jaar in die najaar weer terugkeer en verder roer.

Dit laat my so aan myself en my eie daaglikse bestaan dink.

en jy?

Wednesday, November 09, 2005

Waarom op swart?
Met hierdie blog wil ek iets skep en kyk waarheen dit gaan.
Met die afrikaanses of afrikaner of die wat afrikaans spreek wat tans oor die wereld heen begin versprei is dit dalk tyd om te kyk na jouself. Tyd om te kyk na jou emde taalgenote en te vra: wil ons nog afrikaans praat?
Ekself het agtergekom dat dit interesant is dat in die landsgrense van Suid Afrika die geneigheid om afrikaans te praat met diegene rondom jou nie so sterk is as wat dit is as jy jouself buite die landsgrense bevind nie.